BYLAE A
AGTERGROND
MANDAAT
Die Vrystaatse Provinsiale Regering se taalbeleid is gegrond op:
Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet Nr. 108 van 1996), Hoofstuk 1, artikel 6, en die volgende toepaslike grondwetlike bepalings van die Handves van Menseregte, Hoofstuk 2:
Gelykheid en taal artikel 93
Taal en kultuur (artikel 30)
Kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe artikel 311
Die Wet op die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, 1995 (Wet Nr. 59 van 1995)
Die Nasionale Taalbeleidsraamwerk (NTBR) en Implementeringsplan, 2003.
Provinsiale omstandighede is in ag geneem by die opstel van die VPR se taalbeleid. Volgens die jongste beskikbare sensussyfers , word Sesotho deur die meerderheid van die Vrystaatse bevolking gebruik (64% of 1 742 939 moedertaalsprekers), gevolg deur Afrikaans (12% of 323 082 moedertaalsprekers), isiXhosa (9% of 246 192 moedertaalsprekers), Setswana (7% of 185 389 moedertaalsprekers) en isiZulu (5% of 138 091 moedertaalsprekers). Engels (1,3% of 31 246 moedertaalsprekers), hoewel deur baie min mense as huistaal in die provinsie gebruik, is die taal wat deur die onderskeie moedertaalsprekers gebruik word wanneer met mekaar gekommunikeer word. Dit is `n taal wat mense uit verskillende gemeenskappe en etniese groepe in staat stel om doeltreffend te kommunikeer en hulle sodoende bemagtig om in `n globale samelewing te funksioneer. Die waarde van taalbedrewenheid in Engels moet dus nie onderskat word nie, mits die gebruik daarvan nie die gebruik en ontwikkeling van ander inheemse tale benadeel nie. Engels is ook gevestig as die werks- of verslagtaal van die Provinsiale Regering, vir praktiese en funksionele kommunikasiedoeleindes. In die vertaalbedryf dien dit as die brontaal waaruit dokumente na die doeltale, d.w.s. die ander amptelike tale, vertaal word.
Onder die apartheidsregering was Afrikaans en Engels die amptelike tale van Suid-Afrika. Toe die demokraties verkose regering aan die bewind kom, is voorsiening gemaak vir 11 amptelike tale met die aanneming van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika in 1996, wat erkenning verleen aan al ons inheemse tale. Weens die onbruik in `n amptelike hoedanigheid van die Afrika-tale in Suid-Afrika voor 1994, het groot wanbalanse tussen die tale ontstaan. Sedertdien het die regering die mandaat ontvang om Afrika-tale, naas Afrikaans en Engels, in staatsaktiwiteite in te span en die status van dié tale in alle opsigte te verhoog. Die provinsies het by hierdie nuwe rigting ingepas deur die dominante tale in hul gebiede, hoogstens drie of vier, as amptelike tale in te stel. Die uitdagings vir die regering is om die gebruik van alle amptelike tale te bevorder, wanbalanse uit die verlede reg te stel, inheemse tale (veral Afrika-tale) te ontwikkel en hul status onder die taalgemeenskappe te herstel. Hierdie uitdagings word aangepak deur die taalbeleide wat deur staatsorgane ontwikkel is of ontwikkel word.
In 1994 is Sesotho naas Afrikaans en Engels bygevoeg as amptelike taal op provinsiale regeringsvlak in die Vrystaat. Hoewel dit nie formeel by wyse van beleid of wetgewing aangeneem is nie, is hierdie drie tale gevestig as die amptelike tale van die Vrystaat deur die gebruik daarvan in regeringskommunikasie. Sedert 1994 geniet hulle spesiale status in beide die Vrystaatse Provinsiale Wetgewer en die Vrystaatse Provinsiale Regering. Dit het egter `n gaping laat ontstaan ten opsigte van die Nguni-tale (isiXhosa en isiZulu) wat in die Vrystaat gepraat word. Tale in die Nguni-groep is onderling verstaanbaar deur sprekers van hierdie tale, soos wat die geval is met die Vrystaatse tale wat onder die Sotho- groep (Sesotho, Setswana) ressorteer. Derhalwe is besluit om isiXhosa in te sluit en hierdie vier tale (Sesotho, Afrikaans, isiXhosa en Engels) as die amptelike tale van die Vrystaatse Provinsiale Regring aan te wys.
Die ander twee amptelike tale wat ook in die Provinsie Vrystaat deur `n beduidende getal sprekers gebruik word, naamlik Setswana en isiZulu, is as hooftale in sommige Vrystaatse streke gekonsentreer. In sodanige gevalle moet munisipaliteite hierdie feit in ag neem. Daar word van Vrystaatse munisipaliteite, wie se taalbeleide met die provinsiale taalbeleid ooreen moet stem, verwag om hul keuse van aangewese amptelike tale, ná raadpleging met hul gemeenskappe, te grond op plaaslike omstandighede soos taalverspreiding en gevestigde gebruik in hul ampsgebied, en praktiese oorwegings.
Die taalbeleid maak ook voorsiening vir die kommunikasiebehoeftes van gehoor- en visueel gestremdes. Hierdie groepe word nog in `n groot mate toegang ontsê tot regeringsinligting want daar word nie genoeg gedoen om in hul kommunikasiebehoeftes te voorsien nie.
Sesotho as die taal in die Vrystaat van die meerderheid van die bevolking, verdien spesiale aandag. Genoeg hulpbronne moet toegewys word vir Sesotho-terminologieontwikkeling en die bevordering en produksie van Sesotho-letterkunde.
DOELSTELLINGS
Die doelstellings van die VPR se Taalbeleid is:
Om die gelykwaardige gebruik van die aangewese VPR amptelike tale te bevorder;
Om, in die gees van Batho Pele, billike toegang tot Vrystaatse regeringsdienste, kennis en inligting vir alle mense van die Vrystaat, met inbegrip van gehoor- en visueel gestremdes, moontlik te maak;
Om respek vir die taalregte van die mense van die Vrystaat te kweek en die regte te beskerm;
Om veeltaligheid in die Vrystaat te bevorder en aan te moedig;
Om die aanleer van die provinsiale tale aan te moedig;
Om samewerking onder alle belanghebbendes te bevorder om duplisering van pogings te vermy en aktiwiteite te koördineer.
GEBRUIK VAN DIE AMPTELIKE TALE IN DIE VRYSTAATSE PROVINSIALE REGERING
Die amptelike tale word soos volg gebruik:
Interne mondelinge kommunikasie in alle VPR-departemente
Vir vergaderings, besprekings en konsultasies kan enige van die aangewese amptelike tale van die VPR gebruik word, mits tolking deur professionele of opgeleide tolke gebruik word indien nodig, en die notules van vergaderings of verrigtinge in Engels gehou word vir rekorddoeleindes.
Opleidingskursusse en inligtingsessies vir amptenare word gevoer in die aangewese amptelike taal van die VPR wat geskik is vir die teikengroep, met behulp van professionele of opgeleide tolke en/of oudio-visuele media indien geen opleier of aanbieder wat die taal magtig is, beskikbaar is nie. Die behoeftes van gehoorgestremde amptenare moet geakkommodeer word deur gebaretaaltolking of onderskrifte waar toepaslik.
Interne skriftelike kommunikasie in alle VPR-departemente
Engels, vir doeleindes van onderlinge begrip, is die werks- of verslagtaal vir interne skriftelike kommunikasie, tussen en binne staatsorgane.
Braille en grootdruk sal gebruik word om die kommunikasiebehoeftes van visueel gestremde amptenare te akkommodeer indien toepaslik en op versoek.
Elke amptenaar word egter toegelaat om Sesotho, Afrikaans, isiXhosa of Engels te gebruik wanneer hy of sy amptelike skriftelike kommunikasie opstel.
Verder word elke amptenaar toegelaat om die vertaling of verduideliking in Sesotho, Afrikaans, isiXhosa of Engels aan te vra van enige amptelike geskrewe kommunikasie wat deur die Vrystaatse Provinsiale Regering gegenereer word.
Eksterne mondelinge kommunikasie vir alle VPR-departemente en spesifiek strukture wat dienste regstreeks aan die publiek lewer
Alle amptelike mondelinge kommunikasie deur die VPR met die Vrystaatse publiek word gevoer in die aangewese amptelike taal/tale van die VPR wat die geskikste is vir die teikengehoor, indien nodig met behulp van professionele of opgeleide tolke, amptenare wat bedrewe is in die taal, of oudio-visuele media met klankbane in die verskillende tale, met inbegrip van SA Gebaretaaltolking en onderskrifte indien toepaslik.
In streekkantore, meerdoelige gemeenskapsentra en strukture wat regstreeks dienste aan die publiek lewer, moet verkieslik amptenare aangestel word wat moedertaalsprekers is van die Vrystaatse amptelike tale (met inbegrip van SA Gebaretaal, indien van toepassing) wat deur `n beduidende getal sprekers in die bepaalde streek of diensgebied gebruik word.
Om die VPR in staat te stel om die implementering van die voorskrifte van die Batho Pele Witskrif te vergemaklik en te sorg dat sy kliënte gehelp word en inligting ontvang in `n taal wat hulle verstaan, hetsy per telefoon of persoonlik, en in staat is om klagtes en voorstelle oor die verbetering van dienslewering in te dien, moet departemente van die VPR inligtings- of Batho Pele-kantore by hul hoofkwartiere open wat beman word deur amptenare wat moedertaalsprekers is van die tale van elk van die volgende kategorieë:
Politieke en openbare funksionarisse wat die publiek toespreek, hulle raadpleeg of met hulle in gesprek tree gedurende besoeke, vergaderings en imbizo's moet vergesel word van tolke vir die aangewese VPR amptelike tale wat geskik is vir die bepaalde gebied of streek, en Gebaretaal indien toepaslik. Alle pogings moet aangewend word om alle taalgemeenskappe in die streek by sodanige interaksie betrokke te kry.
Openbare veldtogte, bekendstellingstoere, werksessies en konferensies moet gevoer word in al vier aangewese VPR amptelike tale en in SA Gebaretaal indien van toepassing, met behulp van opgeleide of professionele tolke en oudio-visuele media.
Eksterne skriftelike kommunikasie in alle VPR-departemente
Ingevolge die Batho Pele Witskrif, moet skriftelike kommunikasie met die publiek eenvoudig, maklik verstaanbaar en kliëntvriendelik wees.
Enige respons deur die regering op skriftelike korrespondensie van `n lid van die publiek, moet in die SA amptelike taal wees wat deur die korrespondent gebruik word.
Amptelike regeringspublikasies soos hieronder gespesifiseer moet minstens in twee aangewese VPR amptelike tale wees, naamlik die verslagtaal (Engels) en een van die ander drie op `n rotasiegrondslag: Met dien verstande dat weergawes in die ander twee aangewese VPR amptelike tale binne `n redelike tydperk in elektroniese formaat beskikbaar gestel word sodat dit op versoek aan die publiek verskaf kan word. Waar van toepassing moet `n voetnota op die dokumente verskyn waarin vermeld word dat hierdie dokumente op versoek beskikbaar is in die ander aangewese VPR amptelike tale. Vir hierdie doel sal `n sentrale databank gehou word sodat die dokumente elektronies verskaf word aan die punt vanwaar die versoek gedoen word. Visueel gestremdes moet ook in staat gestel word om afskrifte van hierdie dokumente in Braille, grootdruk of in oudiovorm aan te vra. Die publiek moet weergawes in hul aangewese VPR amptelike voorkeurtaal van hul provinsiale biblioteke en ander geïdentifiseerde sentra kan aanvra en ingelig word dat hulle dit mag doen.
Die gespesifiseerde publikasies is die volgende:
Begrotingspostoesprake van die Premier en lede van die
Uitvoerende Raad
Alle Vrystaatse Wetsontwerpe en regulasies wat deur die provinsiale regering gegenereer word
Alle beleidsdokumente wat die publiek raak wat deur die provinsiale regering gegenereer word
Strategiese planne of `n verkorte weergawe daarvan
Die lys sal jaarliks hersien word.
Die volgende dokumente moet gelyktydig in al vier aangewese VPR amptelike tale gepubliseer/beskikbaar gestel/vertoon word, en, waar van toepassing ook beskikbaar wees in Braille, grootdruk of in oudiomateriaal, indien aangevra.
Amptelike kennisgewings vir algemene openbare inligting
Inligtingsdokumente wat die publiek inlig oor dienste wat deur departemente gelewer word.
Alle amptelike vorms wat deur die publiek voltooi moet word.
Die lys sal jaarliks hersien word.
Die volgende dokumente moet gelyktydig in al ses Vrystaatse amptelike tale gepubliseer/beskikbaar gestel/vertoon word, en, waar van toepassing ook beskikbaar wees in Braille, grootdruk of in oudiovisule media :
Pamflette en dokumente wat belangrike, kritieke en essensiële inligting bevat waarvan alle inwoners van die provinsie kennis moet neem vir hul eie welsyn, beskerming, gesondheid of goeie orde.
Alle materiaal, dokumente en pamflette wat gemik is op die opvoeding van die publiek oor die voorkoming, behandeling of hantering van MIV/VIGS.
Die lys sal jaarliks hersien word.
Die inhoud van tydskrifte en nuusbriewe, en indien prakties, webtuistes, moet `n mengsel wees van artikels in die vier aangewese VPR amptelike tale, met subhofies en `n kort opsomming in Engels, waar toepaslik, maar met uitsluiting van gespesialiseerde letterkundige publikasies vir `n spesifieke taal. Redakteurs moet hul eie oordeel gebruik by die vasstelling van die persentasie inhoud in elke taal, met inagneming van hul teikengroep lesers. Waar toepaslik moet hoofartikels afwissel tussen al die aangewese VPR amptelike tale en `n kort opsomming in die ander aangewese VPR amptelike tale bevat.
Advertensies in die media moet in die aangewese VPR amptelike taal wees wat geskik is vir die teikengroep diensverskaffers, lesers of aansoekers.
Aanwysings op inligtingsborde, rigtingwysers en naamborde by die VPR se hoofkantoorgeboue, kantore, departemente en komponente, moet in die vier aangewese VPR amptelike tale wees. By inrigtings wat regstreeks die publiek bedien, soos hospitale, biblioteke en verkeerskantore, asook takkantore en meerdoelige gemeenskapsentra in die streke, moet sodanige aanwysings in die Vrystaatse amptelike tale wat deur `n beduidende getal sprekers in die bepaalde streek of area gebruik word, verskyn. Die volgorde van tale wat in aanwysings gebruik word, moet die taallandskap van die Provinsie Vrystaat weerspieël soos dit voorkom in die taalverspreiding, vanaf huistaal met die meeste sprekers tot die met die minste sprekers.
Vir alle ander dokumente wat die VPR genereer vir `n openbare leserskring, word `n beleid van funksionele veeltaligheid gevolg, d.w.s. die dokumente word aangebied in die aangewese VPR amptelike taal of tale wat die geskikste vir die teikengroep of -groepe lesers is, met inagneming van hul behoeftes en opvoedingsvlak.
Internasionale kommunikasie deur die VPR word normaalweg gevoer in Engels, of die taal van keuse van die betrokke land, indien prakties moontlik.
BEVORDERING VAN LETTERKUNDE IN AL DIE TALE VAN DIE VRYSTAAT
Om die ontwikkeling van al die Vrystaatse tale aan te moedig, ondersteun die VPR skryfwerk, letterkundekompetisies en -veldtogte, lesersklubs en opnames en vertalings van volksoorlewerings in alle tale van die diverse Vrystaatse gemeenskappe en kulture, met inbegrip van die Khoe- en San- tale en SA gebaretaal. Vir hierdie doel moet `n inklusiewe Vrystaatse skrywerskomitee gestig word.
Die bevordering van Sesotho-letterkunde verdien spesiale aandag.
TERMINOLOGIE-ONTWIKKELING
As gevolg van die groot behoefte aan die ontwikkeling van tegniese terminologie in die Afrika-tale, en die nasionale neiging om skaars hulpbronne op hierdie gebied te desentraliseer na die provinsies waar hierdie tale dominant is, en gefokus word op een bepaalde taal, gaan die Vrystaatse Provinsiale Regering sy hulpbronne en pogings toespits op die ontwikkeling van Sesotho-terminologie. Die VPR sal proaktief met belanghebbendes saamwerk om Sesotho-terminologie uit te brei in alle tegniese velde ten opsigte van sy 11 departemente wat gemik is op die saamstel van tweetalige termlyste vir gebruik deur taalpraktisyns, opvoeders en ander belanghebbendes.
Nie-vertroulike vertaalde tekste in die ander drie aangewese VPR amptelike tale, naamlik Afrikaans, isiXhosa en Engels, sal op versoek beskikbaar gestel word aan strukture wat gemoeid is met die ontwikkeling van terminologie in hierdie drie tale met die oog op die versameling van terme.
GEDRAGSKODE
n Gedragskode oor skriftelike en mondelinge kommunikasie met die publiek en kollegas, in ooreenstemming met die Batho Pele-beginsels, sal vir amptenare ontwikkel word.
BEVORDERING EN BEWUSMAKING
Die Vrystaatse Provinsiale Regering sal bewusmaking van die taalbeleid bevorder en projekte onderneem en geleenthede aanbied wat daarop gemik is om veeltaligheid te bevorder, wanbalanse uit die verlede reg te stel en voorheen gemarginaliseerde tale te ontwikkel.
OPLEIDING IN EN AANLEER VAN TALE
Die Vrystaatse Provinsiale Regering sal die aanleer van die vier aangewese VPR amptelike tale ondersteun deur amptenare toe te rus met `n basiese kennis van hierdie tale vir gesprekdoeleindes. Dit sal amptenare in staat stel om hierdie kennis toe te pas wanneer met kollegas en lede van die publiek gekommunikeer word sodat goeie menseverhoudings gekweek word.
Vrystaatse munisipaliteite moet hul eie taalbeleide ontwikkel wat ooreen moet stem met die VPR-taalbeleid. Die keuse van aangewese amptelike tale op plaaslike regeringsvlak word gegrond op plaaslike omstandighede van die bepaalde munisipaliteite, soos taalverspreiding, gevestigde gebruike en praktiese en finansiële oorwegings, asook sensitiwiteit vir die voorkeure van die plaaslike gemeenskappe.
DIE PRIVAAT SEKTOR
Die Vrystaatse Provinsiale Regering moedig private ondernemings aan om hul eie taalbeleide te ontwikkel, en sal hulle steun deur toepaslike inligting op versoek aan hulle beskikbaar te stel.
SAMEWERKING ONDER BELANGHEBBENDES
Op VPR-vlak sal `n struktuur geskep word wat uit verteenwoordigers van die 11 departemente bestaan om kwartaalliks of wanneer nodig byeen te kom om die taalbeleid te hersien, oor vordering met die implementering en enige probleme wat ervaar word, verslag te doen, en om aanbevelings ter verbetering te doen indien nodig.
Op provinsiale vlak sal `n wyd verteenwoordigende Vrystaatse Provinsiale Taalforum in die lewe geroep word. Die forum sal ook dien as `n raadplegende- en adviesforum vir nasionale liggame wat betrokke is by besluite oor taalaangeleenthede. Dit sal samewerking en uitruiling van taalverwante inligting onder alle taalbelanghebbendes in die provinsie vergemaklik, sorg vir wye raadpleging, duplisering uitskakel om koste te bespaar en sorg dat redelike standaarde met die voorsiening van taaldienste gehandhaaf word.
DIE MONITERINGS- EN ADVISERENDE ROL VAN DIE VRYSTAATSE PROVINSIALE TAALKOMITEE VAN PANSAT
Die VPR sal nou saamwerk met die Vrystaatse Provinsiale Taalkomitee (VSPTK), die provinsiale arm van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, wat `n moniterings- en adviserende rol oor taalaangeleenthede in die Provinsie speel. Sy lede verteenwoordig alle Vrystaatse taalgemeenskappe, en lede van die publiek word aangemoedig om taalverwante klagtes of aanbevelings by die VSPTK in te dien. Die VSPTK sal geraadpleeg word oor taalbeleid, implementeringsplanne, en strukture en praktyke wat ingestel word om `n veeltalige bedeling te weeg te bring.
WOORDELYS (betekenisse binne die konteks van die VPR-taalbeleid)
Aanwysings
Inligting wat vir openbare vertoon opgestel word
Basiese kennis van gesprekvoering (in `n taal)
Om te weet hoe om mense te groet, na hul welstand te verneem en oor alledaagse onderwerpe te gesels, en om algemene opdragte en instruksies in `n taal te gee. Vir amptenare wat in `n spesifieke diensomgewing werksaam is, veral diegene wat regstreeks die publiek bedien, behels dit ook die verkryging van `n werksverwante woordeskat en geselsvaardighede in die tale.
Eksterne geskrewe kommunikasie
Dokumente in skriftelike vorm wat deur die VPR gegenereer is vir `n publieke leserskring soos die publikasies wat in klousule 3.4 van die Taalbeleid gespesifiseer word.
Eksterne mondelinge kommunikasie
Mondelinge kommunikasie tussen die publiek en die VPR, ook via media soos DVDs of video's met klank, gebaretaal.
Funksionele veeltaligheid
Gebruik van die toepaslike taal/tale vir `n bepaalde funksie of doel en vir `n bepaalde gehoor of leser.
Gebaretaalletterkunde
Videos/DVDs waar `n storie of gedig ens. deur gebaretaal oorgedra word.
Gelykwaardige gebruik
Regverdige en onpartydige gebruik
Kantore by departementele hoofkantore wat die jongste volledige en akkurate inligting voorsien oor die dienste wat departemente lewer en die amptenare wat verantwoordelik is vir die onderskeie dienste, beman deur moedertaalsprekers van die aangewese tale, wat persoonlik of telefonies kliënte in hul eie tale sal help om toegang te verkry tot regeringsinligting en -dienste, of om klagtes in te dien of voorstelle te doen oor beter dienslewering.
Interne mondelinge kommunikasie
Interne skriftelike kommunikasie
Dokumente in geskrewe vorm wat deur en vir amptenare gegenereer word om gelees en ingelig te word, besluite te neem, rekord te hou, ens., soos voorleggings, memoranda, verslae, planne, programme, omsendbriewe, rekords, lyste, ens.
Onderskrifte
Onderskrifte aangebring aan die onderkant van `n skerm wat die dialoog of storie vertaal of transkribeer.
Gebruik van klank, bv. bandopnames
Oudiovisuele media
Gebruik van beide klank en beelde, tipies in die vorm van skyfies of video's/DVDs met spraak en musiek
Veeltaligheid
Die gebruik van drie of meer tale.
